DEUR MAGDEL BOTHA
Annelie Botes het in Afrikaanse leeskringe sekerlik geen bekendstelling nodig nie. Sy het al 12 boeke gepubliseer, verskeie kortverhale vir tydskrifte geskryf, en was rubriekskrywer vir Die Burger en die Volksblad. Toe Annelie ‘n klein dogtertjie was, het sy vir God woedend geraak omdat Hy Krismismotte en kuikens kon laat doodgaan. Sy het Hom by die dam se pompkraan sien staan en Hom op haar hardste met ‘n klip gegooi. So was sy van kleintyd af al: anders.
Waarom is jy ‘n skrywer?
Ek is nie onderdanig genoeg om vir ‘n baas te werk nie.
Het jy van kleins af geweet jy wil skryf?
Ongetwyfeld, ja. Toe ek as klein dogtertjie F.A. Venter se handtekening voor in sy boek Swart Pelgrim kry en besef skrywers is nie opmaakmense nie, het ek gebid dat ek ook eendag ‘n boek sal hê waarop mý naam staan.
Wat was tot dusver jou grootste prestasie as skrywer?
Dat ek nie kranksinnig geraak het nie, was ‘n genade. Die ATKV-Prosaprys is n 1998 aan Klawervier toegeken. In 2010 het Thula-Thula die SALA-prys gekry, wat toe mos skandalig teruggetrek is. Mens sou sweer dis ék wat die prys gekry het, nie die bóék nie. Maar daar is ‘n klein dingetjie wat in my eie hart iets groots is. In 2007 kry ek ‘n e-pos van my Nederlandse vertaler, Riet de Jong, wat my vertel van ‘n borskankerlyer wat voor haar dood gevra het dat haar drie gunstelingboeke saam met haar in die kis gesit moes word. Bo aan die lysie was Klawervier. Riet skryf: “Zo zie je, hoe zinvol en betekenisvol je werk is.” ‘n Klein stukkie brood wat ek uitgedeel het, het as ‘n hele brood na my toe teruggekom.
Het jy al ooit gevoel jy wil moed opgee?
Ontelbare kere, maar dis nie in my aard om ‘n saak halfpad gewonne te gee nie.
Hoe besluit jy waaroor om te skryf?
Die eindproduk moet bemarkbaar wees; verkoopbaar. My onderwerpe móét ook op die emosionele tafel van my hart geskryf staan. Ek moet onverdeeld met die hoofkarakter kan versmelt. Om ‘n suksesvolle skrywer te wees, moet ‘n mens ‘n gawe streep van skisofrenie in jou bloed en sening hê.
Hoe maklik of moeilik is ‘n skrywerslewe?
Vir my is dit maklik, maar skryf is bitterlike harde werk. Jy moet iets skep wat jy glo tot ander mense sal spreek. Aanvanklik het ek ‘n vrees vir resensies gehad wat grens aan doodsangs. Dalene Matthee het my egter geleer dat wat ‘n mens eintlik moet vrees, is géén resensies nie. Waarmee ek wel sukkel, is die sittery op een plek.
Hoeveel navorsing doen jy vir jou boeke?
Ek hou nimmer op voordat ek nie tevrede is dat dít wat ek skryf korrek is nie.
Hoeveel van jou skryfwerk is gebaseer op jou eie ervarings?
Iets van mý is in alles wat ek skryf. Alhoewel fiksiewerk nooit my eie storie is nie, móét dit net sowel myne kon gewees het. Ek moet saam met my karakters kan huil, vloek en asemhaal. Anders kan ek hulle nie lewensgetrou weergee nie.
Enige raad vir aspirantskrywers?
Moet nooit dink jou lesers is onnooslik nie. Skryf uit die innertes van jou siel. Vergeet daarvan dat jy by skryfskole kan gaan leer skryf. Dis jy, en jy alleen; sonder selfdissipline gaan jy nêrens kom nie. Woorde en die inspan van woorde is jou gereedskap. Sorg dat jou woordeskat en algemene kennis gedurigdeur uitbrei. Moenie voortdurend verskonings uitdink oor waarom jy nog nie begin het met die boek wat jy so brand om te skryf nie.
Watter wenke het jy oor publikasie?
Versorg die eerste draft wat jy aanbied so keurig as moontlik. Moenie oorheilig en oorbeskermend wees oor jou skryfgoed nie. Uitgewers is ervare en kundige mense; luister wat hulle sê. Ook: dink aan maniere hoe jy jou uitgewer kan help met bemarking.
Wat is die belangrikste skryfwenk wat jy al ooit gekry het?
Wéét as jy nié weet nie en moet nooit ‘n morele leuen skryf nie.
Magdel Botha was ‘n musiekonderwyser vir die afgelope 12 jaar. Toe sy haar onverwags op ‘n plaas in die Groot-Karoo bevind (met twee kleuters vir geselskap heeldag) het sy besluit om te begin skryf. Sy is nou ‘n vryskutskrywer en –joernalis. Haar eerste artikel is in Desember 2014 in die webzine Sakevrou gepubliseer.